OM GOD SE LIEFDE TE PROBEER VERSTAAN...
  Om ‘n begrip te vorm van God se liefde, is om ‘n begrip te kry van God Self, want God is LIEFDE (1 Joh. 4:8). Om IETS oor hierdie wonderbare God te begryp, moet ons na die Bybel gaan, want daarin vind ons die Self-openbaring van God aan ons.
Omdat die Nuwe Testament oorspronklik in Grieks geskryf is, behoort ons te gaan kyk wat die Grieks vir ons kan leer oor liefde. Daar is ten minste vier begrippe of betekenis-konnotasies vir die woord “liefde” in Grieks, waar ons in Afrikaans ongelukkig net enkelvoudig daaroor dink. Elke Griekse begrip beskryf ‘n ander soort liefde terwyl almal in die Afrikaanse Bybel slegs met “liefde” vertaal word.
Die eerste woord wat ons in Grieks vind, is eros, ‘n woord wat spesifiek fisiese/liggaamlik-erotiese of seksuele liefde beskryf. Dan is daar nog ‘n woord wat vriendskaplike liefde beskryf, nl. filia of file, met ander woorde, ‘n liefde wat gerig is op iets wat bloot vir ons plesier verskaf. Dit is ‘n liefde vir iets of iemand wat vir my voordeel inhou. ‘n Blote affini-teit vir iemand sal met híérdie woord beskryf kan word; ‘n blote platoniese vriendskaplike liefde.
Nog ‘n woord is filadelfos, wat letterlik beteken “broederliefde”. ‘n Liefde vir die broederskap in die Kerk, die Liggaam van Christus. Omdat dit saamgestel is uit file en adelfos (broeder), is die grondslag dieselfde as voorafgenoemde. Dit bring ons by die vierde begrip, en dit is agape, ‘n diepgaande, onselfsugtige liefde wat ook die liefde van God beskryf. Hierdie liefde kan nie bloot met woorde beskryf word nie, maar moet ook belééf word. Eers dán kan ons dit probeer verstaan. Dit is ‘n self-opofferende liefde wat ander eerste stel bo eiebelang. ‘n Liefde wat ander se heil soek, ten koste van self. Dit is ‘n liefde wat só ‘n prysgawe van eiebelang inhou, dat géén offer te groot sal wees om te bring nie, selfs al bring dit die dood mee.
Daarom verklaar Johannes 3:16, “Want so lief (met agape) het God die wêreld gehad, dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”
Die woorde “so lief” beskryf nie slegs die onmeetlikheid van God se liefde nie, maar ook die manier waarop Hy ons liefgehad het (en nog steeds het). Hy het ons só lief, want kyk net wat het Hy gedoen! Hy het Sy Eniggebore Seun gegee! Hy kon nie méér gegee het nie. Hy het alles gegee. En deur hierdie Gawe van God, wat Sy Seun se dood gekos het, het Hy versoening vir ons gebring sodat ons die ewige lewe saam met Hom kan deurbring.
Elkeen wat ‘n begrip van hierdie Goddelike liefde wil vorm, kan dit nie bloot intellektueel doen nie, want so ‘n liefde lê nie bloot op die vlak van die intellek nie. Dit moet belééf word. Daarmee saam is dit egter ook nie net bloot emosie nie. Dit lê op ‘n vlak ver bo die intellek, emosie of wil van die mens. Om hierdie liefde (agape) van God te beleef, moet daar eers ‘n prys-gawe van die self aan God kom. Elke individu sal alles moet prys-gee om hierdie Goddelike liefde te verkry.
Elkeen wat erns wil maak om God se liefde beter te verstaan, sal alles moet “verkoop” wat hy het, sodat hy die groot pêrel van onskatbare waarde kan bekom (Matt. 13:46). Soos die ryk jong-man nie bereid was om alles prys te gee om die “skat in die hemel” te ontvang nie (Luk. 18:18-30), is daar steeds baie mense wat a.g.v. hierdie onwilligheid skade ly, en nie die groot liefde van God deelagtig word nie, en dit nog minder verstaan. Jesus het liefgehad en Sy alles op die kruis gegee. Daarom vra Hy ons alles om Hom in liefde te volg wanneer ons hierdie groot Liefdesoffer van God begryp en aanvaar.
Die woord agape het deur die koms van Jesus Christus en die Christendom nuwe betekenis gekry. Buite en voor die Nuwe Testament het dit skaars verskyn in Griekse geskrifte. Hierdie liefde (agape) soek die hoogste goed van ander, al sou hy wát ook al gedoen het. Dít is die liefde waarmee ons in aanraking kom, ook in ons moderne tyd, wanneer ‘n moeder die moordenaar van haar enigste kind kan vergewe en teen-oor hom van die liefde van God kan getuig. Dít is die liefde van selflose gee, sonder om iets terug te verwag. En dít is maar ‘n skrale afbeelding van hoe lief God die wêreld werklik het en hoe graag Hy almal tot redding wil bring.
God verwag van Sy kinders om hierdie karaktereienskap van die Vader aan ander oor te dra, onge-ag wát hulle ook al verkeerd gedoen het. In ons eie krag en vermoë kan ons dit egter nie vermag nie. Daarom kom Hy en stort hierdie liefde (agape) in elke individu wat Jesus aanneem, se hart uit: “…en die hoop beskaam nie, omdat die liefde (agape) van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is” (Rom. 5:5). Hy skenk ons nie net Sy liefde nie, maar Hy help ons deur die krag van die Heilige Gees om soos Hy lief te kan hê.
Ons was geneig om God en ons naaste te haat, totdat Jesus in ons harte woning kom maak het. Nou verklaar Johannes: “Ons het Hom lief (agape), omdat Hy ons eerste liefgehad (agape) het” (1 Joh. 4:19). Hoe sou ons anders Sy wonderbare liefde leer ken het? Daarom sê Jesus: “Dit is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê (agape) net soos Ek julle liefgehad (agape) het (Joh. 15:13). En: “Groter liefde (agape) het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee” (Joh. 15:12). God wil elke kind van Hom lei, om nie net hierdie groot liefde dieper te leer ken nie, maar om dit ook aan ander te bewys! Ons moet sóós Jesus wees in hierdie wêreld. Ons moet die toonbeeld van Sy liefde wees vir ander, nie net vir hulle wat ons liefhet nie, maar óók vir hulle wat ons haat en leed aandoen. Dán word ons Sy wáre Beelddraers.
In Joh. 21 lees ons dat Petrus ses ander dissipels met hom saam-neem om wéér terug te keer tot die vissersberoep. Dit nadat hulle hulself oorgegee het om Hom te volg. Hulle het na byna drie jaar God se roeping die rug toegekeer. Hulle wou nie meer dissipels wees nie, omdat hulle die gebeure van Jesus se kruisiging nie kon verwerk nie.
Ons lees dat hulle as ervare vissers die hele nag deur hard gewerk het, maar niks gevang het nie. Toe verskyn Jesus aan hier-die dissipels. Hy staan op die strand terwyl hulle nie geweet het dat dit Hy was nie, en vra: “My kinders, het julle nie iets om te eet nie? Hulle antwoord Hom: Nee” (Joh. 21:5). Waarop Hy vir hulle sê om die net aan die anderkant in te gooi. Die gevolg was dat hulle ‘n groot visvangs gehad het. (Dit het ook gebeur toe Hy hulle die eerste keer geroep het en hulle alles verlaat het om Hom te volg).
Hierna het Hy vir hulle gebraaide vis op die kole gegee, en hulle het sélf ook van die vis gebring wat hulle pas gevang het, en dit gebraai. Na die ete het Jesus vir Petrus, die leier, aangespreek, en gevra: “Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief (met agape), meer as hulle hier? In Grieks staan daar letterlik: “Het jy My meer lief as hierdie? Jesus sê in werklikheid vir Petrus: “Het jy My lief met 'n liefde wat jou dring om jouself vir My te offer? ‘n Liefde vir My wat uit jou hart kom omdat Ek vir jou meer kosbaar is as enigiets of enigiemand op aarde? Daarom kan ons vertaal: “Méér as hierdie vissersberoep wat jy nou wéér gekies en na teruggekeer het.” En Petrus, wat besef hy kan nie ant-woord dat hy Jesus met agape liefhet nie, antwoord Hom: “Ja, Here, U weet dat ek U liefhet (met filia, ‘n vriendskaplike liefde). Hy sê vir hom: Laat My lammers wei” (vers 15). Petrus, dít is jou taak, dít is jou roeping! “Jy moet die Here jou God liefhê (agape) met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê (agape) soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete” (Matt. 22:37-40).
Hoe lief het óns Jesus? Petrus het voorheen vir Hom gesê dat hy sy lewe vir Hom sou aflê. En nou? Jesus vra hom toe vir ‘n tweede keer of hy Hom liefhet met agape, en weer kom die antwoord dat hy Hom maar net met filia liefhet! Die derde keer vra Jesus dan of hy Hom maar net met filia liefhet? Is dit ál wat Petrus kan bied? Hierop het Petrus bitterlik geween. Op hierdie liefdevolle en nie-veroordelende wyse het Jesus Sy geliefde dissipel met liefde (agape) teruggewen vir die roeping.
Deur oorlewering is dit bekend dat Petrus Jesus van hierdie tyd af só liefgehad het dat hy God se werk met groot vrymoedigheid (“boldness”) gedoen het en uit-eindelik in Rome op eie versoek onderstebo gekruisig is omdat hy homself nie waardig geag het om op dieselfde wyse as sy Here gekruisig te word nie.
Liewe leser, wat van u? Is u bereid om alles prys te gee ter wille van JESUS? Om Hom te volg met u héle lewe? Mag God vir u en vir my help om HOM te agape!
© Dr. J J Venter

Indeks     Index